KINDERS EN TEGNOLOGIE

Kinders en Tegnologie

Tuisskolers het gemengde gevoelens oor tegnologie en die rol wat dit behoort te speel in ons kinders se ontwikkeling. Daar is die wat glo dat tegnologie liefs vermy moet word, veral onder jong kinders, en dan is daar die wat glo dat kinders hulself moet reguleer wanneer dit by tegnologie kom.

Ek is ‘n lid van “Unschooling Special Needs” op Facebook, en ek was werklik waar gister ontnugter gedurende ‘n omstrede debat wat gehandel het oor vrye toegang tot rekenaars, ipads, internet, en selfone. Daar is soveel ouers wat glo dat, soos met enige ander gedeelte van “unschooling”, die kind vrye toegang behoort te geniet. Hulle argument word basseer op die uitkyk dat die kind die vermoё het om homself te reguleer, dat die nuutjie vanself sal verby gaan, en dat die kind uiteindelik self sal aanleer hoe om ‘n goeie balans te handhaaf.

Ek is ‘n oopkop mens, en was nog nooit bekend daarvoor dat ek tradisies slaafs navolg nie, maar in hierdie geval leun ek meer na die tradisionele uitkyk. Soos met enige ander onderwerp, hou ek daarvan om dit deeglik te ondersoek, en die feite teen mekaar op te weeg, alvorens ek ‘n standpunt inneem. Ek deel graag my uitkyk met julle:

SKERM TEGNOLOGIE HET ‘N VERSLAWENDE ELEMENT

Gedurende Mikhail se diagnose met Asperger, het bykans elke spesialis my gewaarsku teen fiksasie. Outistiese kinders is geneig om op ‘n onderwerp te fikseer, en hulself totaal in daardie onderwerp te omvou. Pro-aktief, en altyd optimisties, het ek besluit om dit in ons guns te laat werk. Wanneer Mikhail ‘n nuwe fiksasie beleef, duik ek eenvoudig saam met hom in die onderwerp in, ondersoek dit in diepte, en maak seker dat hy vergenoegd uit dit uitstap. Dit was werklik voordelig om hom behulpsaam te wees, eerder as om hom te veg daarop. Ek het gou agtergekom dat my kind aanbeweeg sodra hy voel hy het al die nodige inligting bekom. Maar wat van ‘n fiksasie wat om tegnologie wentel?

Ek het my teorie in hierdie verband op die toets gestel, maar gevind dat die verslawende element van tegnologie selfs volwassenes onder kry. Dis ‘n baie gemaklike wêreld – die kuberruimte, en voor jy dit weet, leef jy in ‘n tussen-in wêreld, wat jou weerhou van al God se gawes. Vir hierdie rede bevind myself aan hierdie kant van die draad, waar ek selfs nie ‘n televisie in die huis het nie, en het ek geen behoefte om oor te spring na die meer liberale uitkyk nie.

TELEVISIE

Televisie is taboe, want dit beroof my gesin van God se wonderlike geskenk van leef, en ek sal veel eerder self kies waaraan my kind blootgestel word. Ons is hierdie jaar drie jaar vry van televisie se invloed, en ons het geleer om op gesonde plekke inligting te verkry. Maroela Media hou my op hoogte van die nuus, en vir kinderprogramme, het ek die wonderlike voordeel dat ek eers kan seker maak dat dit voordelig is vir my kind, voordat ek hom daaraan blootstel.

Dis nie om my kind selektief groot te maak en te beskerm teen die werklikheid nie, maar eerder om hom op die regte tyd, en in die regte dosisse bloot te stel, sodat ek seker is hy het die kapasiteit om te onderskei tussen die goeie en die slegte.

REKENAARS, IPADS, EN INTERNET

My hoofberoep is die van publieke verhoudinge, en ek is ook ‘n grafiese ontwerper. Dylan, my oudste, is ‘n programmeerder, en ons huis het van die beste tegnologie. Ons het drie skootrekenaars, ‘n ipad, en ons ADSL lyn is van die beste.

Ons gebruik hierdie hulpbronne op ‘n daaglikse basis, maar my Khailie-kind (9) het nie die opsie om van vroeg tot laat daarvan gebruik te maak nie.

Ons gebruik dit saam deur die loop van die dag vir opvoedkundige doeleindes, en indien hy ekstra tyd wil verkry om ‘n aanlyn speletjie of iets te speel, moet hy punte verwerf wat in tyd omgeskakel kan word. Hy is nie soos baie van sy maats op sosiale netwerke nie, en sy internet gaan slegs na die skakel toe waarop ons ooreengestem het.

Skerm tegnologie neem jou weg van realiteit af. Dit plant saadjies in jou kop wat ontevredenheid laat ontkiem. Dit steel jou tyd van werklik leef, en dit kan deure open waarteen God jou gewaarsku het. As ouer, is dit my verantwoordelikheid om my kind te lei tot ‘n gebalanseerde lewe, en om bo enige iets anders – hom te leer oor die liefde van God.

Hoor hoe fluit die voёltjies daar buite in die tuin. Luister na die reёn. Beleef die gevoel van gras onder jou voete. Spit ‘n bedding om en ruik aan die grond – dis wat God vir ons beplan het. Vra jouself die vraag af: Wat se invloed het ‘n dag se rekenaar op my kind, en wat se invloed het ‘n dag in die natuur op kind?

xoxo

 

 

 

 

 

 

Advertisements

ONS GOOI ONS ROU DIËET OORBOORD!

kfc

Hoe sê mens nee vir Kentucky?? LMAA – lag my alie af!

Ouma het besluit om ons te verras met Kentucky, en hoe sê ‘n mens dan nee wanneer sy piekniek kombers en al voor jou voordeur staan?

Nee wat, jy nooi haar in, al kwylende, en vergeet dat jy ooit van so iets soos ‘n rou diёet gehoor het! Jy gesels, en lag, en kuier heerlik en net so dan en wan, vee jy die skuldgevoel van jou skouer af. Die slagspreuk is ewe waar: “Dis vingerlek lekker!”

Mikhail het my so oor die kole gehaal. Hy het die kapokaartappels geёet, aartappelskyfies en koolslaai, maar hy wou nie aan die “arme hoender” raak nie! LMAA!

Ek weet nie wat dit van my uithouvermoё sê nie, en ek weet nie hoe ek ooit weer gaan terugkeer tot die rou diёet nie, maar een ding is seker – Mikhail is ernstig oor hierdie saak. Hy gaan my nie so maklik daarvan af laat kom nie. 🙂

Môre is nog ‘n dag. Miskien probeer ek dan maar weer, vir Mikhail se onthalwe, maar tussen my en jou….jy kan nie ‘n ou hond nuwe toertjies leer nie. LMAA!

xoxo

MINDER DRUK

GESKRYF DEUR LIZELLE RADEMEYER

LomiArtikel

Iemand vra my die ander dag of ek dink tuisonderwys maak kinders slimmer? Dis nie die eerste vreemde vraag wat ek al gekry het nie. En gewoonlik sit dit my aan die dink.

Ek sou nie omgee as tuisonderwys my kinders slimmer maak nie. In al die jare van op lees oor die voor- en nadele van tuisonderwys het ek egter nog op niks af gekom wat daarop dui nie. Ja, daar is tonne navorsing in Amerika en elders wat wys dat die kinders beter doen in gestandaardiseerde toetse as hul skool eweknie. Selfs dat hul beter doen met buite die boks probleem oplossing. Maar beteken dit hulle is slimmer? Nie noodwendig nie.

Wat ek wel dink is dat daar minder druk en stres is. Alhoewel kort termyn stres, af en toe, ons beter kan laat presteer, is lang termyn stres baie nadelig vir enige mens. Nie net vir geheue en probleem oplossing nie, maar vir ons algemene gesondheid. Mens funksioneer bloot net beter as die druk nie konstant hoog is nie.

Hoekom sal dit enigsins anders vir kinders wees? Ek wonder net of mense dikwels besef onder watter druk jong kinders van selfs 6 of 7 deesdae amper konstant is. Miskien is dit makliker om dit raak te sien, terwyl ons self in die kalm poel, die gejaag gadeslaan. Is mens immers nie dikwels so vasgevang in jou eie situasie of gejaag, dat jy die voor die hand liggende heel mis kyk nie?

As ek terug dink aan my eie eerste paar jaar op skool was dit ‘n heerlike avontuur. Ek onthou die baie speel en maats. Ek onthou al die oulike dinge wat ons geskep het. Die samehorigheid gevoel van sport dae waar almal punte vir hul span gekry het en niemand eers geweet het wat ‘n medalje is nie! Van skool konserte waar ALMAL ‘n rol gespeel het.

Die eerste toets wat ek onthou was in standerd 2 (graad 4). Ek onthou ook die wrewel wat ek oor die ding gevoel het. Dis eers in hoërskool wat ek die konstante druk aan my lyf begin voel het. Dis ironies dat hoërskool meer stresvol was as enige iets daarna. Selfs universiteit en al die uitdagings van volwasse lewe wat daarop gevolg het.

Tye het drasties verander. Nou stap kinders in die skool in en binne die eerste week of 2 begin die toetse. Eksamens begin ook sommer al in graad 1 (ja, dit word nie dit genoem nie. Dis “net” ‘n toets reeks. Maar maak dit saak wat jy dit noem?! Die stres oor wat jy moet leer, wat jou punte is en of jy “goed genoeg” is, bly presies dieselfde). Die druk op die outjie wat spook om deur te kom is net soveel soos die op die een wat konstant probeer goed doen.

Dis ‘n gejaag van een aktiwiteit na die volgende. En oral is daar druk en ‘n gemeet teen ander. Dis seldsame aktiwiteite waar kinders net iets kan doen vir die lekker en hulle nie ‘n eksamen of kompetisie iewers moet doen nie.

Ek luister hoe 7-jariges spesiale vergunning moet kry om later aan distriksproewe vir gimnastiek deel te neem, omdat hul ‘n netbal wedstryd het wat bots met dit. Want sien, mis hul die een wedstryd, verloor hulle hul plek in die span. Besef mense die kinders is NET 7?! Hulle is nie besig om ‘n loopbaan van sport te maak nie. Hulle is net besig om te speel en te ontwikkel.

Daar kan baie gesê word van die individuele aandag wat kinders tuis kry. Maar ek vermoed dis die heelwat stadiger pas en aansienlik minder druk wat net so ‘n groot bydrae lewer tot die kinders se besondere ontwikkeling en latere prestasies. Hulle kan leer en ontwikkel teen hul eie pas. Hul grootste kompetisie is hulself.

Dit hou egter ook ‘n waarskuwing in vir ons wat tuisonderwys doen. Ons moet waak daarteen om nie die druk en stres te laat terug sluip in ons huise in nie. Dit kan vir ons en ons kinders rustige lae stres jare wees. Of ons kan onsself en hulle jaag en druk, om nie af te steek teen ander nie, en net die probleme van die skoolstelsel dupliseer.

Lizelle Rademeyer
Lomi – Learning, Playing, Crafting
http://lomi.co.za/
www.facebook.com/lomicreations

HOE OM AFSTAND TE DOEN VAN DIE KLASKAMER MENTALITEIT

KlaskamerMentaliteit

Ek glo almal van ons was al daar. Ons besluit om ons kinders tuis te laat leer, maar voor ons dit weet het ons ‘n volledige klaskamer ingerig; swartbord en al! Ons trek ons hakskoene aan, en siedaar – Juffrou Tuisonderrig is gereed om klas te gee!

Hoe doen ons afstand van die klaskamer mentaliteit?

Die geheim lê in ons redes vir tuisonderwys. Gaan besoek weer jou redes, en jy sal sien dat dit juis van die klaskamer is waarvan jy wou afstand doen.

Die wêreld is mooi. Daar is so baie om te sien en te leer. Ek wou nie hê my seuns moes in die skoolbanke gaan sit en leer om soos ander te dink nie. Ek wou nie hê mensgemaakte instellings moes hulle beroof van hulle oorspronklikheid nie. Ek wou hulle ‘n geleentheid gee om te leer sonder om van hulle uniekheid afstand te doen.

Dis hoe ons dit reggekry het om van die klaskamer mentaliteit afstand te doen:

  1. Maak dit ‘n gebedsaak

Vertrou God om te lei. Bid, vra vir leiding, en moedig jou kinders aan om saam te bid. Leer hulle om wysheid en insig van God te vra. Vertrou op God om Sy wil sigbaar te maak.

  1. Skep ‘n leervriendelike huis

Ons huis loop oor van leer materiaal. Van boekrakke propvol boeke, aanlyn hulpbronne tot by kunsmateriaal. Alle oorbodige speelgoed is weggepak vir spesiale dae, sodat my kinders op hulle eie inisiatief en verbeelding kan staatmaak. Geen vrae word beantwoord nie, maar elke vraag word ondersoek. Hierdeur leer ek my kinders om hulle eie vrae te beantwoord.

  1. Laat gerus die lyne kruis

Alhoewel ons ‘n wonderlike ruimte het vir leer, waar al ons hulpbronne is, kruis die lyne gereeld in ons huis. Party dae leer ons sommer in die kombuis, waar dit so maklik is om wetenskap projekte aan te pak, en soms bly ons sommer in die bed omdat dit darem so lekker is om op ‘n reёndag aanlyn te leer. Laat kruis gerus die lyne sonder om skuldig te voel.

  1. Loop ‘n pad van geloof

Geloof, vir ons, is die hart van ons tuisonderwys. Van wiskunde, tot by wetenskap; alles word aan ons geloof gemeet. Ons weeg evolusie op teen ons geloof en besluit of ons daarmee saamstem of nie, en wanneer ons onderwerpe navors is geloof ons maatstaf.

  1. Gooi jou drang om te beheer oorboord!

Om werklik waar die klaskamer mentaliteit oorboord te gooi, moes ek leer om my behoefte aan beheer oorboord te gooi. Ek moes leer om my kinders toe te laat om hulle eie opinies te vertrou, sonder om myne te laat inmeng. Ek moes laat gaan van my droom om ‘n perfekte tydskrif huis te bou, want daar waar leer plaasvind kan dit eenvoudig nie altyd netjies en perfek wees nie. Haal diep asem wanneer jou eetkamertafel toe is onder kunsmateriaal, glimlag en weet – jou kinders leer!

xoxo

DAG 1 – ONS MAAK GROEN SAP!

GroenSap

Dit was gister ons eerste dag van Mikhail se “Rou Kos Uitdaging” en natuurlik was oggend koffie ‘n taboe! Ek het my koffie vervang met ‘n lekker koppie kookwater waarin ek lemoen en suurlemoen skyfies ingesny het, en ek moet bieg dat dit verfrissend anders was! Mikhail het rooibos tee met suurlemoen in gedrink, want melk en suiker is nou taboe!

Hierdie dieёt is eksklusief groente, vrugte en sade, en alle diere produkte word uitgesny. Natuurlik word alles ook rou geniet.

Vir ontbyt het ons het ‘n oulike resep gekry aanlyn vir ‘n verfrissende groente smoothie, maar ongelukkig het ons groentetuin nie alles gehad nie. So besluit ek en Mikhail toe om sommer ons eie resep te gebruik.

Groen Smoothie Resep

12 Spinasie Blare

12 Baba Koolblare

2 Appels

‘n Halwe suurlemoen, geskil

‘n Halwe koppie mineral water

‘n Halwe koppie ys

Aanwysings:

Was alle groente en vrugte baie goed. Verwyder die pitte van die appel, maar los die skil aan. Sny dan die bestandele op sodat dit makliker meng.

Plaas al die bestandele in jou smoothie masjien en meng goed, tot alle bestandele opgekerf is en ‘n heerlike dik smoothie is.

Ons albei het half skepties gestaan en kyk na ons groente smoothie, maar na die eerste sluk kon ons nie genoeg kry nie. Dit was so verfrissend, en die appel het ‘n natuurlike soetigheid aan die smoothie gegee. Dit was vullend, en dit was wonderlik om te sien hoe Mikhail groente inkry sonder om een keer te kla daaroor.

Na ontbyt het ons in die tuin gaan bid, en ons oefeninge gedoen.

Ons het sommer reg deur die dag aan vrugte gepeusel, en redelik baie geёet.

Vir aand ete het ek vir ons ‘n reenboogslaai gemaak met neute in.

Ons het albei soveel meer energie gehad, en Mikhail se konsentrasie was beter as ander dae. Die wonderlikste van alles was toe hy sommer binne ‘n paar minute aan die slaap raak. Mikhail lei aan Insomnia en ek kon nie glo hoe vining hy aan die slaap geraak het nie.

My kind het nie een keer gekla oor die kos nie, en hy het meer geёet as gewoonlik. Ek kan nie wag om te sien hoe hierdie nuwe leefstyl ons stryd met etenstyd verander nie, maar dalk is dit nie net etenstyd wat gaan verbeter nie. Ek het ‘n vermoede dat ons nog baie ander vrugte gaan pluk!

xoxo

MIKHAIL DAAG MY UIT: ‘N DERTIG DAE ROU DIEËT

dvS4

Die grootste uitdaging in ons huis is om seker te maak dat Mikhail ‘n gebalanseerde dieёt volg. Los jy hom, sal hy vir ‘n maand lank net Weet Bix eet. Hy is sensories sensitief, en waar jy ook al navors word jy aangemoedig om jou Asperger kind stelselmatig bloot te stel aan nuwe kossoorte en teksture.

Daar is niks wat ‘n ma so kan platslaan as die wete dat jy misluk in jou pogings om jou kind te help nie. Uit moedeloosheid het ek gisteraand by hom gaan sit, nadat hy weer ‘n vol bord kos kombuis toe gedra het, en besluit om hierdie keer net te luister, eerder as om hom te forseer om te eet.

“Mamma, ek kan nie diere eet nie. Liewe Jesus het hulle gemaak. Ek hou nie daarvan om aan hulle vleis te kou nie. Ek hou van vrugte, groente, en sade.”

Soos enige ander TO ondersoek, het ons begin navors oor vegetariese diёte, en so ontdek ek toe die “Fully Raw” leefstyl. Mikhail het dadelik aanklank gevind. “Dis my kos, mamma!” Die vreugde en verligting in sy stem het my hart so aangeraak. My kind is “Vegan”. Terwyl ek nog so sit en wonder hoe ek dit gemis het, hoor ek hom sê: “Vir nege jaar moes ek julle kos eet. Nou is dit julle beurt om my kos te probeer.”

Daar daag Mikhail my uit om vir ‘n maand lank saam met hom sy pad te stap. Nie net om rou kos te eet nie, maar ook om te oefen, te mediteer, en vir ‘n maand lank in die oomblik teenwoordig te wees. Vir dertig dae gaan ons hierdie onderwerp navors, leef en beleef. Ons gaan ‘n dagboek hou, dokumenteer, en alles met julle deel!

Ek moet sê ek is bang. Ek het groot geword met boerekos, en net die gedagte aan ‘n rou dieёt laat my sommer klaar hongerdrange kry! Maar hier gaan ons! Vir dertig dae gaan ek en my kind rou kosse eet, en wie weet? Miskien verloor ek sommer hierdie ekstra paar kilogram wat op my heupe vassit!

So, as julle lus is om deur ons venster te loer en ons staptog te deel, volg ons webjoernaal! Ons gaan ons resepte deel, ons emosies, en sommer die hele kaboedel!

xoxo

SELF GERIGTE LEER VS TRADISIONELE ONDERRIG

dvS2

Code Cabin het Dylan vanoggend laat weet dat hy die internskap posisie as Junior PHP Programmeerder gekry het. Hy het jare terug vir hierdie oomblik begin voorberei, en uiteindelik het dit vrugte afgewerp. Daar heers ‘n opgewondenheid in die huis en my kind se vreugde is tasbaar.

Ek is in die versoeking om almal wat gekant was teen ons self gerigte leer, te laat weet van Dylan se sukses. Ek wonder hoe hulle nou sal reageer? Jare gelede was daar vir my gesê dat ek Dylan grootmaak vir teleurstelling; dat hy niks sou bereik sonder matriek nie.

Dylan het nie vakke gehad nie. Hy het nie Afrikaans, Engels, Geskiedenis, Wiskunde of enige van die normaal aanvaarbare vakrigtings gevolg, of eksamens en toetse afgelê nie. Hy het niks daarvan gehou om boeke te lees nie, en hy het nie rugby of krieket gespeel nie.

Sy pad was onuitgetrap. Hy was altyd op sy rekenaar, het meeste van sy lees ondervindinge aanlyn gehad, en al staan hy vandag in ‘n hoofsaaklik wiskundige rigting, het hy nooit ‘n wiskunde kurrikulum gevolg nie.

Self gerigte leer fokus na binne. Dis gebasseer op die kind se belangstellings en sy soeke na antwoorde. Dis ‘n verkenning van die wêreld en sy rol binne in dit. Dit gee hom die vryheid om sy belangstellings te ondersoek en sy bevindinge te vergelyk met ‘n verskeidenheid van inligtingsbronne.

Tradisionele Onderrig fokus na buite. Dis gebasseer op een persoon se persepsie – die onderwyser. Dit stel die kind bloot aan vooropgestelde konsepte, wat nie bevraagteken mag word nie. Voorgeskrewe boeke maak die onderrigsmetode subjektief van aard.

‘n Voorbeeld hiervan lê in ‘n werksboek wat Mikhail moes voltooi in ‘n publieke skool. (Sy pa het aangedring dat ons Mikhail eers skool toe moes stuur vir ‘n jaar of twee.) Daar was ‘n prentjie van ‘n koffiebeker en Mikhail moes die woord neerskryf. Hy het “mug” geskryf, en sy onderwyseres het dit verkeerd gemerk. Die korrekte antwoord was “cup.” Mikhail was so ongelukkig daaroor. Hy het alle vertroue in sy onderwyseres verloor.

In self gerigte leer bestaan vakke nie. Dis gefokus op belangstellings en vakke oorsky dikwels. ‘n Ondersoek herberg dikwels verskuilde vaardighede. Die kind word blootgestel aan die die lewe as geheel waar verskeie vaardighede benodig word om een taak af te handel.

‘n Voorbeeld hiervan: Die kind gebruik wiskunde om ‘n animasie te doen van ‘n fiets wat beweeg. Hy doen inderwaarheid kuns, maar kan dit nie voltooi sonder ‘n wiskunde agtergrond nie.

Tradisionele Onderrig isoleer vakke. Die kind word kunsmatig aan vakke blootgestel, wat dikwels lei tot ‘n negatiewe ondervinding. Meer as dit, die kind word onderrig deur vooropgestelde metodes, en daar word van elke kind verwag om dit soos ander te ervaar en te doen. Die kind leer dat daar net een manier van doen is. Dit beperk individuele denkprosesse, algemene kennis, en beroof die kind van outentieke ondervindings.

Self gerigte leer het nie definitiewe doelwitte nie. Daar is geen definitiewe vaardigheid/uitkoms wat behaal moet word nie. Die kind besluit self of hy die ondersoek bolangs wil bekyk, of in diepte wil ondersoek. Die kind bepaal teen watter spoed hy sy kennis uitbrei, en dit word gou duidelik in watter rigtings hy meer belangstel.

Tradisionele Onderrig stel doelwitte. Of die kind gereed is vir die vlak van onderrig of nie, daar word verwag dat alle kinders sekere uitkomste moet behaal. Dit lei baie dikwels tot ‘n verwronge selfbeeld wanneer ‘n kind nie in sy ouderdomsgroep kan volhou nie.

Self gerigte leer bevorder onafhanklike denkprosesse. Die kind weeg inligting teen mekaar op, en is vry om dit te bevraagteken, te toets, en selfs te verander daaraan. Hy het toegang tot verskeie bronne, en kan uitkomste teen mekaar opweeg om sodoende sy eie opinie te vorm.

Tradisionele Onderrig leer kinders om instruksies te volg. Die kind word voorgeskryf wat om te dink, hoe om te voel, watter metode om te volg, en word nie toegelaat om die onderwyser te bevraagteken nie.

Ek onthou hoe die onderwyseres vir my verduidelik het dat die antwoordstel wat saam met die kurrikulum aan hulle voorsien is, lees dat daardie prentjie ‘n “cup” is. Ek het net my kop geskud, en gedink – al is die antwoord voor die hand liggend, sal hulle nie afwyk van daardie antwoordstel nie.

Waar tradisionele onderrig in ‘n klaskamer plaasvind vir ‘n sekere hoeveelheid ure, vind self gerigte leer in die wêreld plaas, en is daar nie ‘n skeidslyn tussen leer en leef nie. Die kind absorbeer inligting op ‘n natuurlike wyse, en juis daarom het hierdie kinders ‘n groter algemene kennis as die van hulle eweknieё, en word hulle ook vinniger kenners op ‘n gebied.

 

 

 

 

 

 

HOEKOM EK TRADISIONELE DISSIPLINE VERRUIL HET VIR SAGTE DISSIPLINE

SagteDissipline

“Sagte dissipline is gemik daarop om innerlike dissipline te ontwikkel, eerder as om ‘n tugmeester aan te stel.” Da Vinci Ma

Ek is die produk van tradisionele, konserwatiewe Afrikaner dissipline. In ons huis moes kinders stilbly en volg. Ons mag nie met ons ouers verskil het nie, want dit was gesien as disrespek. Ons het pakslae gekry wanneer ons stout was, en ons was gereeld verskreeu.

My broer was byna dood geslaan omdat hy ‘n badkamer venster gebreek het toe ons buite gespeel het, en ek was ook met ‘n broekgordel bygekom omdat ek hom probeer beskerm het. Vir jare lank was ek blootgestel aan ‘n dissipline wat van kinders onderdane gemaak het.

Ek moes toekyk noe my liefling broer so verniel was, en uiteindelik ‘n diabeet geword het van al die trauma wat hy moes beleef.

Hierdie tipe dissipline se fondasies word gebou op vrees. Dis dissipline wat die ontvanger leer dat sy opinie nie tel nie, en wat die tugmeester alle beheer en mag gee. Dit beroof die kind van ‘n goeie selfbeeld, en verseker dat daar onseker, bang volwassenes by jou deur uitstap, wat tien teen een die patroon gaan herhaal wanneer hulle ouers word.

Ek het myself belowe dat dit anders sou wees met my kinders. Ek het van dag een af my kinders gesien as individue wat instaat is om keuses te maak. Sagte dissipline was die natuurlike keuse vir my. Dis gegrond op empatie en respek.

Ek het my hart vertrou toe dit vir my sê dat ek my kind sagkuns moet lei en dat ek my kinders se opinies moet aanhoor sonder om bedreig te voel. Ons het nog nooit weer terug gekyk nie.

Doelwitte van sagte dissipline:

VEILIGHEID: Ek wou hê my kinders moet ten alle tye veilig voel by my. Ek wou hulle plek van veiligheid en aanvaarding wees. Die laaste ding wat ek wou bereik is dat hulle my moes vrees. Ek wou die sagte siel in elk van hulle, ten alle tye koester en beskerm.

VENNOOTSKAP: Ek wou my kinders ‘n vennootskap aanbied. Een wat hulle instaat stel om insae te lewer. Ek wou goeie gedrag aanmoedig deur onderliggende gevoelens en behoeftes van elke kind te ondersoek. Met ander woorde: “Wat het die optrede veroorsaak?”

My uitkyk van sagte dissipline beteken dat ek ten alle tye die kinders se behoeftes erken. Ook dat ek die kind se onvermoё om met sekere situasies te deel, erken en hom help om sosiale vaardighede te ontwikkel.

VAARDIGHEDE: Deur die kind se gevoelens te respekteer, ontwikkel jy probleem oplossing sonder om die kind af te breek. Jy stel ook ‘n voorbeeld vir hulle wat hulle sal help om ander met empatie te behandel.

Die Probleem Situasie: Jou kinders skreeu op mekaar.

Tradisionele Dissipline: Gaan na julle kamers toe! Ek wil nie ‘n woord van julle hoor nie.

Sagte Dissipline: Laat sit albei kinders. Verduidelik dat ‘n mens nie op ander mense skreeu nie. Erken hulle gevoelens van ongelukkigheid met mekaar. Verduidelik dat dit normal is om soms ongelukkig te voel, maar dat jy nie ander mag seermaak in die proses nie. Gee hulle die geleentheid om die situasie te herskep en te oefen.

Instede van afbreek en afsny, het jy nou die geleentheid gebruik om hulle sosiale vaardighede te ontwikkel.

SELF DISSIPLINE: Sagte dissipline is gemik daarop om innerlike dissipline te ontwikkel, eerder as om ‘n tugmeester aan te stel. Verder ontwikkel dit kinders met selfvertroue. Tradisionele dissipline veroorsaak dat kinders emosies onderdruk, wegsteek hoe hulle voel, en ‘n gevoel van minderwaardigheid gekweek word.

RESPEK EN EMPATIE: Deur my kind met respek en empatie te behandel, leer ek hom ook om ander mense met dieselfde respek en empatie te behandel.

SAGTE DISSIPLINE IN AKSIE

Baie mense dink sagte dissipline is gelykstaande aan geen dissipline nie. Daar is vier mites as dit kom by sagte dissipline:

Sagte dissipline stel geen grense nie. Daar is definitiewe grense as dit kom by sagte dissipline, maar dit word anders gekommunikeer as in tradisionele dissipline. Ons het ‘n stel huisreёls wat elke kind bewus maak van aanvaarbare en onaavaarbare gedrag. Elke reёl word verduidelik, sodat die kind dit verstaan.

VOORBEELD:

Huisreёl: In ons huis slaan ons nie aan mekaar nie. Ons respekteer mekaar se liggame en mag nie seermaak nie.

Sagte dissipline beteken passiewe ouers. So vals. Inteendeel verwag dit van ouers om meer intensief betrokke te wees. Ouers neem die tyd om op die kind se vlak te kommunikeer, is pro-aktief, en help kinders om oplossings te vind, en vaardighede te ontwikkel.

Respek vir jou kind verswak jou posisie. Inteendeel. Respek kweek respek. Wanneer jy jou kind se gevoelens respekteer en moeite doen om te luister, leer jy ook jou kind om dieselfde te doen vir jou. In tradisionele dissipline word respek op vrees gebou en al wat gekweek word is bang kinders.

Sagte dissipline ondermyn die ouer. Hierdie is die grootste rede hoekom ek tradisionele dissipline verruil het vir sagte dissipline. My ouers het geglo dat alle grootmense gerespekteer moet word, en as gevolg daarvan was ek gemolesteer toe ek 5 jaar oud was. Respek word verdien.

Sagte dissipline as baanbreker:

Ons samelewing loop op uitgetrapte paadjies, en as gevolg van jarelange tradisionele metodes, vra niemand meer vrae nie. Ons doen wat ons ouers gedoen het, maar hier is iets om oor na te dink:

Kinders is uitgelewer aan ouers. Hulle het nie die vermoё om hulle omstandighede te verander nie. Elke volwassene behoort hierdie verantwoordelikheid ernstig op te neem, en die kind waarmee God hulle vertrou met liefde en respek behandel.

Vir my is daar net een pad vorentoe – ‘n nuwe pad, waar kinders veilig en heel anderkant uitkom.

xoxo

 

ONDERSOEK GEDREWE LEER: STAP-VIR-STAP

Aug8

Onder-die-see – deur Mikhail

Gemengde Medium (Akriel & Mon Ami)

HOE WERK ONDERSOEK GEDREWE LEER?

“Mamma, hoe maak ons my gustelling blou?”

Onderwys Gedrewe Leer is gemik daarop om die kind se vrae te antwoord, maar dit is belangrik dat hy sy eie vrae ondersoek om antwoorde te kry. Dit leer kinders om te dink, te analiseer, en om navorsing te doen.

Hier is ‘n paar idees hoe om Ondersoek Gedrewe Leer te benader:

VRA JOU KIND OM BETROKKE TE RAAK BY DIE ONDERSOEK

“As jy wil weet hoe om jou gunstelling kleur te maak, sal ons ‘n eksperiment moet doen. Sien jy kans?”

LEER JOU KIND HOE OM TE ONTLEED

“Kyk na hierdie kleurkaart van jou gunstelling kleur. Watter kleure kan jy daarin sien?”

VRA VRAE WAT DIE DENKPROSES AANHELP

“Dink jy daar is groen ook in?”

“As ons blou en groen meng, gaan dit baie donker wees. Dink jy ons moet ‘n ligter kleur ook inmeng?”

“Ek wonder of daar swart of grys ook in is?”

MEET DIE UITKOMS

“Kom ons hou die kleurkaart langs ons mengbakkie. Lyk dit dieselfde?”

DOKUMENTEER DIE PROSES

Bou ‘n flitskaart wat die proses stap-vir-stap dokumenteer, sodat jou kind later weer kan kyk hoe hy die uitkoms bereik het.

GEE JOU KIND BEHEER

“Ek dink ons moet rooi bysit.”

Moenie nee sê nie. Dis belangrik dat jou kind deur eie ondervindings leer.

VAT DIE LES VERDER

“Kyk hoeveel verf het ons gemaak! Ons sal iets daarmee moet doen.”

“Kom ons verf ‘n prentjie. Wat dink jy moet ons verf?”

“Kan ek jou wys hoe mens in verf kan teken met sosatie stokkies?”