DIE GROOT DEBAT OOR SOSIALISERING

As jy jou kinders tuis onderrig in Suid Afrika is jy seker al keelvol vir die debat oor sosialisering. Persoonlik is ek so moeg vir die onderwerp, dat ek dit aanvanklik oorweeg het om glad nie daaroor te skryf nie. Dit is egter ‘n vraag wat deur elke nuwe tuisskoler gevra word. Dis ook die dryfveer agter meeste anti-tuisskoler organisasies en individue.

Mikhail1

SOSIALISERING IN SKOLE

Ek glo skole werk baie hard daaraan om ‘n gemeenskap te bou en om ‘n gevoel van behoort onder leerders te skep. Hulle neem hierdie aspek van hulle werk baie ernstig op. ‘n Kind wat skool toe gaan kry daagliks die geleentheid vir interaksie. Hulle sosialiseer met ander kinders, doen sport saam met ander kinders en kry die geleentheid om te argumenteer en te verskil.

Wat hulle egter nie daar kry nie, is vrywillige sosialisering. In meeste skole word kinders gedwing om te assosieer.

IS SOSIALISERING VIR TUISSKOLERS ‘N PROBLEEM?

As ouer van ‘n kind wat tuisonderrig ontvang is ek verantwoordelik daarvoor om geleenthede te skep vir sosialisering. My kinders behoort daagliks die geleentheid te kry om hulleself uit te druk, te onderhandel, probleme op te los, kompromieё aan te gaan, en in ‘n span te werk.

As tuisskolers het ons nie die luuksheid van ‘n kits-gemeenskap nie en moet ek soms baie pertinent fokus daarop om my kinders die nodige geleenthede te bied.

Tog vind ek dat my kinders baie meer geleenthede tuis verkry om hulle opinies te lug en verdedig. Meeste Suid Afrikaanse skole moedig nie kommunikasie in die klas omgewing aan nie en dis meestal tydens pouses dat kinders sonder die nodige leiding sosialiseer.

Tuis word my kinders nie onderdruk nie. Hulle het die reg om te verskil. Hier kan ek hulle ook leer hoe om te verskil sonder om die ander persoon te disrespekteer. Ek vind dat tuisonderrig van my kinders beter kommunikeerders maak, juis omdat hulle van kleins af geleer word om verskille te respekteer.

Suksesvolle volwassenes is almal mense wat oor bogemiddelde sosiale vaardighede beskik. Dit is my verantwoordelikheid om my kinders met die nodige vaardighede toe te rus, en juis daarom vind ek tuisonderrig so ideaal.

‘N NETWERK VIR TUISSKOLERS

Dis nie te moeilik om ‘n netwerk te bou en so te verseker dat sosialisering buite die huis plaasvind nie. Gaan op vakansie, sluit by ‘n tuisonderrig groep aan, neem deel aan hulle aktiwiteite, doen sport, gaan kerk toe, of begin ‘n boekklub. Die moontlikhede is oneindig baie.

DIE REGGIO EMILIA BENADERING

Reggio1

Die Reggio Emilia Benadering is ‘n innoverende en baie inspirerende benadering tot vroeё kinderjare ontwikkeling. Dit erken die kind se vermoё, ondersoekende natuur en potensiaal. Dit is dan juis hierdie ondersoekende gees van die kind waarop Reggio Emilia gebasseer is, en wat kinders toelaat om sin te maak van die wêreld en hulle rol daarin.

AGTERGROND

Die Reggio Emilia Benadering het sy ontstaan gevind in ‘n dorp in Italiё, gedurende ‘n beweging tot progressiewe, koöperatiewe vroeё kinderjare ontwikkeling, en is na die dorp vernoem.

Dit is uniek tot Reggio Emilia, en is nie ‘n metode van onderwys nie. Reggio Emilia is gebasseer op aanpasbaarheid volgens die individu, ouer, en die behoeftes van die gemeenskap.

Die Reggio Emilia benadering word tipies in kleuterskole en speelgroepe aangewend, maar kan ook suksesvol in tuisonderrig gebruik word.

FUNDAMENTELE BEGINSELS VAN REGGIO EMILIA

KINDERS HET DIE VERMOE OM SELF TE LEER

Hulle word gedryf deur hulle belangstellings om te verstaan en te leer. Waar daar ‘n natuurlike belangstelling is, sal daar ook deursettingsvermoё wees. ‘n Kind wat aangespoor word om sy/haar belangstellings te ondersoek sal natuurlik deel word van die leerproses.

KINDERS VORM ‘N BEGRIP VAN HULLE SELF EN DIE HULLE ROL IN DIE WERELD DEUR HULLE INTERAKSIE MET ANDER

Reggio Emilia is sterk gefokus op sosiale interaksie, groepwerk waar elke kind gelyke insette lewer, en die skep van ‘n gunstige omgewing waar kinders se vrae, opinies en gedagtes waardeer en erken word. Die volwassene se rol is nie om kinders met kennis te voorsien nie, maar slegs om gunstige interaksie te bewerkstellig, wat op sy beurt lei tot ontdekking. Elke kind ondersoek self sy belangstellings om kennis te bekom. Die volwassene is slegs ‘n mede reisiger op die kind se soektog.

KINDERS IS KOMMUNIKEERDERS

Kommunikasie is ‘n proses wat lei tot ontdekking. Deur te speel met kommunikasie vorm dit ‘n kritiese deel van hulle ontwikkeling.

Kinders word aangemoedig om kommunikasie te gebruik om te ondersoek en ontdek. Daar word met respek na hulle geluister, omdat daar geglo word dat hulle vrae en waarnemings ‘n geleentheid bied om te leer.

Dit opsigself is ‘n proses, omdat vrae nie net deur volwassenes geantwoord word nie, maar eerder dat daar ‘n gesamentlike soektog begin word, waar elke kind self die antwoord kan ontdek.

DIE OMGEWING AS DERDE ONDERWYSER

Daar word baie klem geplaas op die omgewing waarin die kind homself bevind. Die leer area word ontwerp om die leerproses aan te moedig. Natuurlike lig, orde en pragtige oop spasies dra alles by tot die gunstige omgewing.

‘n Groot verskeidenheid materiaal word voorsien, en leerhoekies verander voortdurend om die leerproses aan te moedig.

Onderwerpe word nie net bolangs bekyk nie, maar in diepte ondersoek sodat die kind tevrede voel met die inligting.

Die leerspasie word deur beide die kind en die volwassene versorg. Beide die kind en die volwassene is betrokke in die soektog, en albei partye neem dan verantwoordelikheid om op te ruim en te versorg.

DIE VOLWASSENE AS MENTOR EN GIDS

In kontras met vele ander benaderings, plaas Reggio Emilia die klem op waarneming. Die volwasse luister met belangstelling, om onderwerpe van belangstelling te identifiseer. Projekte word nie vooruit beplan nie, maar ontstaan in die oomblik van waarneming.

Die volwassene en kind gaan dan gesamentlik op die ontdekkingsreis.

DOKUMENTERING VAN GEDAGTES

Die kind se vermoё word nie getoets nie en ook nie beoordeel nie. Die leerproses word gedokumenteer deur van fotografie, transkripsies en visuele uitbeelding gebruik te maak. ‘n Kind se vordering kan gesien word in die ontwikkeling van sy onafhanklike denkproses.

Kinders leer om self te dink. Daar word nie vir hulle gedink nie.

DIE HONDERD TALE VAN DIE KIND

Reggio Emilia is mees bekend vir die “Honderd tale van ‘n kind.”

Die benadering is gegrond op die beginsel dat kinders hulle begrip van ‘n onderwerp op verkillende maniere uit te druk.

Hulle beskik oor verskillende maniere van dink, ondek en leer.

Reggio erken en koester die honderd tale van die kind, en waak daarteen om die kind te beroof van sy unieke leerstyl. Leer en speel vorm da nook een konsep en word nie as twee aparte komponente gesien nie.

Die kind word nie blootgestel aan vooropgestelde idees nie, maar word toegelaat om hulle eie waarnemings uit te druk.

Alle sintuie is betrokke in die leerproses en die klem word geplaas op individuele ontdekking.