VIND JOU KIND SE PASSIE – VIND SY KURRIKULUM

Passie

As tuisskolers probeer ons hard om vir ons kinders die beste kurrikulum, ondervinding en ‘n gebalanseerde opvoeding te gee. Ons is bekommerd dat ons ons kinders sal faal, en probeer antwoorde kry by ander tuisskolers. Ons vra uit oor kurrikulums, en trek ons “Juffrou hakskoene” aan; reg om ons kinders te onderrig. Dit kom alles van ‘n goeie plek af, maar vir nuwe tuisskolers wil ek sê:

Tensy jy nie jou kind se passie identifiseer nie, is al hierdie geswoeg na kurrikulums en skedules nutteloos.

Die uitdaging om saam met jou kind die pad na sy passie te stap, is ‘n massiewe taak. Dis ‘n pad wat jy nie kan beheer nie. Dit vra van jou om al jou drome vir hom oorboord te gooi, en werklik te laat gaan. Dis ‘n harder pad as ‘n kurrikulum-pad. Dit verg vertroue. Vertroue dat jou kind homself sal vind en uiteindelik sal bekend maak waarvoor hy ‘n passie het. Eers dan kan jy dit gryp en daarmee hardloop.

Die wonderlikste deel van tuisonderwys is dat dit ons daardie tyd verleen. Meeste skole en kurrikulums bied jou nie die luuksheid van tyd nie. ‘n Kurrikulum stel verwagtinge en bepaal die koers waarteen die kind moet werk, wat dit onmoontlik maak vir hom om na binne te kyk. Vir ‘n kind om uit te vind waarvan hy hou, het hy tyd nodig om te eksperimenteer, te verken en verskillende dinge te probeer.

Van ons, as ouers, vereis dit dat ons die rol as waarnemer sal inneem. ‘n Kind verken beter wanneer ons nie mikro-bestuur toepas nie.

Hier is ‘n tammeletjie, want ons agtergrond lei ons in die versoeking om elke dag vol vakke te pak. Ons voel dat ons daarsonder ons kinders ‘n onreg aandoen. As kinders het ons skool toe gegaan, was ons dag vol skedules, en het ons saans tot laat toe nog huiswerk gedoen. Dis moeilik om van tradisie afskeid te neem.

Met die internet wat ons toegang tot ander ouers gee, is dit so maklik om onsself te vergelyk met ander, en wat hulle doen. Ons sien daagliks almal se perfekte skoolkamers, sien hulle perfekte kindertjies, en onbewustelik wil ons onsself daarmee vergelyk.

Dit help om so nou en dan terug te dink en te onthou hoekom ons in die eerste plek skool laat vaar het. Ons het skool oorboord gegooi omdat ons besef het dat die klaskamer omgewing nie die beste pad vir ons was nie. Ons het na vryheid gehunker. Ek wou my kinders leer dat daar meer as een roete is in die lewe. Dat dit goed is om uit die boks uit te dink, en nie net ‘n kloon te wees nie.

Elke familie se reis behoort anders te wees juis omdat die kind uniek is. Ek hoop ek kan net een persoon vandag motiveer om dit wat belangrik is, heel bo aan die lys te skryf:

“n Kalm, liefdevolle atmosfeer.

Kinders het ‘n rustige atmosfeer nodig sonder druk, om hulle die tyd en spasie te gee vir vrye spel sodat hulle self met hulle leer proses kan begin. So sal hulle kan uitvind wat dit is wat hulle wil doen. Ons werk as ouers, is om hulle die spasie te gee om hulle outentieke self te ontdek, en dan om hulle te help met ‘n plan om daar uit te kom.

So, liewe ouer, vergeet vir ‘n wyle van kurrikulums, en neem die tyd om jou kind te leer ken.

xoxo

REGGIO EMILIA EN KUNS

Kuns

Ek was nog nooit een van daardie mammas wat baie beindruk was met kunswerkies wat my kind van die kleuterskool af terug bring nie. Het jy al ooit in ‘n kleuterskool ingestap en gesien hoe die rye kunswerkies almal presies dieselfde as die volgende een is? Waar is die kunstigheid wanneer elke kind presies dieselfde stukkies kry, ‘n voorbeeld van die eindproduk teen die bord sien, en stap-vir-stap instruksies ontvang om te verseker dat hulle produk nie uniek is nie? Dit behoort veel eerder “kopieёring” genoem word.

Dis juis hier, in die vormingsjare van die kind, dat kinders van hulle uniekheid beroof word. Ons kinders word vroeg reeds geleer om produkte te skep wat deur die massa aanvaar word. Ek kom geheel en al in opstand daarteen. ‘n Goeie vriendin, en ook ‘n onderwyseres by ‘n kleuterskool het my probeer verduidelik dat dit baie moeilik is in klasverband om elke kind toe te laat om unieke kuns te doen. Hulle kuns vorm deel van die tema, en as die les oor hoenders gaan, maak die hele klas ‘n hoender. Hulle werk ook streng volgens ‘n rooster en die kind het net ‘n sekere tyd om die kunswerk te voltooi.

Basta daarmee. Hulle sal meer vir die kind beteken as hulle spesifieke dae aan kuns afstaan, en die kind die vryheid gee om sy kuns te beoefen. Ek hou daarvan om provokasies te skep, maar skryf glad nie voor wat hulle moet gebruik, hoe hulle dit moet aanwend, en hoe die eindproduk moet lyk nie.

Ek sal ‘n vaas vol pragtige rose in die Atelier neersit as provokasie, my esel nadertrek en begin skilder. Dis genoeg om my kinders uit te lok om deel te neem. Lee (19) is baie lief vir olie pastelle, en kort voor lank sal sy haar weergawe van die vaas vol blomme op die muur hang. Mikhail sal dieselfde vaas blomme, verander in blou Avatar blomme, en verduidelik dat dit is hoe rose in Avatar lyk. 

In hierdie area is ek ‘n Reggio Emilia aanhanger. Die basiese idee is dat jydie kind toelaat om sy eie weergawe uit te beeld. Hulle gebruik hulle verbeelding, en ontwikkel die vaardighede om hulleself uit te druk.

Ons Atelier se rakke is gevul met verskillende mediums, van waterverf tot by klei. My kinders besluit self of hulle ‘n klei weergawe, potlood skets, of skildery wil maak, en daar is geen verwagting omtrent die eindproduk nie.

Die provokasie vir die dag het ook nie enige iets in gemeen met ons huidige ondersoeke nie. Die Atelier is ‘n plek waar ons onsself kan uitleef. 

Vir my is my kinders unieke, sterk individue, wat instaat is om hulle persepsies uit te beeld. Die laaste ding wat ek wil doen, is om hulle te beroof van hulle siening.

xoxo

ONS EIE KLEIN STILTSVILLE

Stiltsville1

“Ons is nou so nuuskierig, dat ons ‘n volledige studie wil doen oor behuising.”  Da Vinci Ma

Ons feetjietuin se klein palafita huisies is uiteindelik klaar! Die dammetjie is te pragtig, en dit is ‘n baie trotse mamma wat hier voor julle sit. Al my kuikens was betrokke, en sonder ouboet se tegniese vaardighede sou ons dit nooit kon doen nie. Dankie Dylan!

Ons het so baie geleer oor palafitas! Ons noem dit palafitas, en nie huisies op stelte nie, omdat die woord een van die mooiste woorde is wat ons nog gehoor het. Sonder dat ons dit besef het, het hierdie onderneming ‘n provokasie geword. Ons is nou so nuuskierig, dat ons ‘n volledige studie wil doen oor behuising.

Ons gaan al die verskillende behuisingsopsies van naderby bekyk, en ‘n model bou van elke tipe boustyl oor die volgende paar maande. Net vir die pret, het ons besluit om sommer tussen deur na die verskillende kulture te kyk, en die mense agter die huisies ook te leer ken. Argeologie en volkekunde! By verre die vakke waarin  Khailie die meeste belangstel.

Oor die volgende paar maande sal ons alles wat ons ontdek en leer met julle deel. Ons kyk volgende na modderhuisies, soos die in ons eie Afrika, maar vir eers terug na ons palafitas. Dit was soos ‘n reis om die wêreld. Ons het in Brazil gaan kuier, in Wes-Afrika ‘n draai gemaak, en selfs in Amerika gaan inloer. Dis juis in Amerika wat ons Stiltsville ontdek het.

Stiltsville, wat geleё is net buite Kaap Florida, het vandag net 7 palafitas oor. Nadat Orkaan Andrew die area getref het, het baie van die oorspronklike stelthuisies tot niet gegaan. ‘n Trust is intussen gestig om die oorblywende huisies te onderhou en te bewaar vir die nageslag. Die dorpie het so ‘n impak op ons gemaak, dat ons dadelik besluit het om ons feetjietuin “Stiltsville” te doop.

Palafitas2

Ons het ook baie ander interessante feite geleer, en Dylan het vir ons pragtige kaarte ontwerp met al die inligting op. So kan ons altyd weer terug kyk om feite op te spoor. Ons deel dit graag met julle. Gaan laai gerus die pdf gratis af op ons Pasella Blad. Dis drukvriendelik en ons het seker gemaak dat al die fotos wat ons met julle deel regvry is, en deur ons gebruik en gedeel mag word.

Ek hoop julle is net so opgewonde as ons, en dat julle hierdie reis saam met ons gaan aanpak en lekker saam met ons gaan verken.

Ek is so opgewonde oor ons taal en ons trots Afrikaanse flitskaarte. Suid Afrika het werklik meer Afrikaanse hulpbronne nodig. Ek is bevoorreg dat ek in vertaling spesialiseer, en dat Dylan ‘n uitstekende Grafiese Ontwerper is. Saam gaan ons nog lekker ontwerp aan ons eie, unieke reeks hulpbronne.

Loer gereeld in vir nuwe Pasellas, of stuur ‘n epos adres sodat ek julle kan laat weet wanneer ek nuwe hulpbronne beskikbaar maak!

 

xoxo

 

 

VLIEG SOOS ‘N AREND, MY KIND..

NoThinking“Don’t be afraid of being outnumbered. Eagles fly alone. Pigeons flock together.” Onbekend

Ons het gister reeds afgespreek dat ons vandag ons palafitas gaan klaar bou. Die huis was in rep en roer vanoggend. Ons het stokkies opgetel, toutjies bymekaar gemaak, ‘n grasbesem opgeknip en besluit, kom wat wou, ons palafitas gaan so natuurlik as moontlik gebou word. Geen gom nie, slegs natuurlike materiale vir ons baie spesiale huisies op stelte.

Met wildsbok oё kyk ek terug na vandag. As ek vanoggend geweet het wat ek nou weet, sou ek dalk die houtgom nader getrek het. Dit was die mees ingewikkelde bouwerk wat hierdie vrygees-gesin nog ooit aangepak het. Ons moes ouboet betrek, want ons vaardighede het ons in die steek gelaat. Met sy hulp het ons dit reggekry om al die knoopwerk te doen wat ons huisies nou laat pronk in ons feetjietuin.

‘n Bietjie raad aan almal van julle wat daaraan dink om palafitas te bou..trek pa nader vir die projek!

Tussen deur die gelaggery, weer probeer, gesug en ampertjies opgee, het ek facebook dopgehou en ‘n paar debatte probeer volg op van die Afrikaanse Tuisonderrig (ja, onderrig – om te beheer) Blaaie. Daar was een in besonder wat my aandag getrek het. Ek kon nie self deelneem nie, want soos ek verduidelik het; die palafitas het my geleer dat daar perke is as dit kom by my vaardighede. Ek kon nie my huisie bou en debat voer nie – onmoontlik!

Ek het opgemerk dat dit weereens een spesifieke blad was waar die debat ontaard het in ‘n geveg. Ek is relatief nuut op die blad, want ek was voorheen geneig om by Internasionale Groepe aan te sluit, juis omdat ek gevind het dat hierdie ouers met ‘n meer oop gemoed na dinge loer. Soos ek sê, ek ken nie die agtergrond van hierdie groep nie, maar ek het oor die laaste drie weke of so agterkom dat die blad allergies is vir woorde soos: Pestalozzi Trust, Unschooling, en ek kies om nie te registreer nie. Indien iemand ‘n ouer verwys na Pestalozzi, word hulle dadelik herhinner daaraan dat lede nie op die blad mag adverteer nie. Tog kan die Boksombende (kurrikulum ouers) verskaffers van kurrikulums noem sonder om aanmanings te kry oor die reёl.

Uiteindelik beland die debat toe op so ‘n vurige plek, dat die stigter van die blad ‘n vasgepende pos laai wat lui dat sy siek en sat is vir lede wat hulleself skuldig maak aan propaganda. Ek kon eenvoudig nie langer uit die gesprek uitbly nie, want dit is daardie einste vrou wat beweer dat ons (mense wat soos ek na dinge kyk) tipe, (wat kies om nie te registreer nie, wat nie kurrikulums ondersteun nie, en onsself liefs beveilig deur by Pestalozzi aan te sluit) diegene is wat onsself skuldig maak aan propaganda, die een is wat wol oor nuwelinge se oё trek.

Oomblikke daarna skrap sy die vasgepende pos, en vervang dit met ‘n verklaring dat sy die blad gaan toemaak teen die einde van Augustus. Soos ‘n klein dogtertjie, plaas sy 1 700 lede voor ‘n ultimatum: Stem met my saam, of ek maak eenvoudig hierdie blad toe!

My reaksie op dit? “Ek verdra nie eers vloermoere van kinders nie. Hoekom sal ek dit duld van ‘n volwasse vrou? Laat die anders vrouens hier jou maar die aandag gee wat jy so brood nodig het. Ek bly nie langer deel van hierdie blad nie.”

Verlig om nie meer deel te wees van die groep duiwe nie, kyk ek terug na my eetkamer tafel waar my kinders heerlik lag en stokhuisies bou, en ek glimlag. My kinders is gelukkig. Hulle leer omdat hulle lus voel daarvoor. Hulle vors tegnieke na, maak planne om struikelblokke te oorkom, en selfs Dylan en Lee is betrokke by Khailie se leerproses. Almal van ons het in hom belang gestel en siedaar! Ons huisies pronk te pragtig in ons tuin.

Allemintig, nee! Laat die klomp duifies maar pik-pik na die saad wat die kurrikulum verskaffers vir hulle voer. Ons verkies dit om self te dink; self te ondersoek; self te leer.

Vlieg soos ‘n arend, my kind. Die uitsig is soveel beter van hierbo af.

xoxo

GELOOF SOOS MOSTERDSAAD

Geloof1

 Ek wil nie hieroor skryf nie, Here. Dit laat mens weerloos en kwesbaar. Da Vinci Kind het nie eers ‘n kategorie oor Christenskap nie, Here, dit gaan oor onderwys…” Da Vinci Ma

Waar ek ookal in die lewe loop, mense kry gou te doen met my reel: Eerlikheid bo enige iets anders. Vir my werknemers is dit baie eenvoudig: Vang ek jou steel, is jy afgedank, maar vra, en ek sal gee. Vir my kinders is dit soos asemhaal. Mamma, ek het ‘n fout gemaak. Mamma, ek was stout. Mamma, ek voel hartseer. Ek straf nie die waarheid nie. Wees eerlik, en ek sal jou altyd in my liefde toevou en help om ‘n oplossing te vind.

Vanoggend het ek skielik voor my eie toets te staan gekom. Ek het myself in ‘n toestand van depressie bevind, en het glad nie lus gevoel om deel te word van hierdie dag nie. Die verantwoordelikheid van enkelouerskap het soos ‘n berg voor my kom lê. Ek het eenvoudig nie kans gesien om hierdie dag te trotseer nie.

Ek kon ‘n leuen bedink, en vir die kinders sê dat ek siek is, of ek kon sê dat ek net te veel werk het en dat ek nie vandag kon betrokke wees by hulle nie.

Mikhail het met by die swembad rondgespeel terwyl hy vir my wag om die skooldag te begin. Ek het langs hom gaan sit om te verduidelik. Hy het opgekyk en dadelik gevra wat fout is, en in daardie oomblik moes ek ‘n keuse maak: Vertel ek die waarheid of bedink ek ‘n leuen?

“Mamma voel nie lekker vandag nie. Ek is nie siek nie, maar ek voel hartseer en bekommerd. Ek weet nie of ek vandag ‘n goeie spanmaat sal wees nie, Khailie.”

“Kom,” sê my Aspie. “Kyk hoe laat Liewe Jesus hierdie stokkie regop staan in die water, mamma. Die stokkie moet eintlik op sy sy lê en of dryf, of tot onder sink, maar kyk hoe regop staan hy, al is hy onder water. Kom, mamma, gaan klim terug in die bed. Ek kan self my leeswerkies doen en my wiskunde. En onthou, Liewe Jesus sal jou laat regop staan onder water, al dink jy jy gaan sink.”

Ek het sommer in trane uitgebars. Hoeveel wysheid het my kind nie by God gekry nie.

Ek het juis vanoggend die mosterdsaad uit die kas uitgehaal en na een saadjie gekyk. Ek het saggies vir God gefluister dat ek nie dink ek het genoeg geloof vandag om een mosterdsaad te vorm nie. Ek was eerlik met God en eerlik met my kind, en hulle het my albei met liefde toegevou. God, het deur my seun vir my ‘n boodskappie gestuur: “Ek sal jou regop hou onder water.”

Ons voel soms of ons wil opgee; asof ons die einde van ons krag ontdek het. Weet dat dit nie waar is nie. God gee altyd die krag saam met die krises. Ons is tot alles instaat, want ons krag kom van die bron van alle krag af.

xoxo

ONDERSOEK GEBASSEERDE LEER: PALAFITAS; OF TE WEL HUISIES OP STELTE

Palafitas1

“Ons fairies kort huisies op stokkies, sodat niks sleg kan inkom nie.  Da Vinci Kind

Ons bou nou al ‘n geruime tyd aan ‘n splinternuwe feetjie dorp. Daar is ‘n dammetjie en touleertjie waaroor hulle kan loop, en Mikhail los tot kos vir hulle, al weet hy feetjies bestaan nie werklik nie. Vandag kon ek sien dat Mikhail nie gelukkig is met ons handewerk nie. “Wat’s fout, seun?” vra ek.

“Ons fairies kan nie so op die grond bly nie. Hulle sal nooit hier intrek nie. Hulle kort huisies op stokkies, sodat niks sleg kan inkom nie.”

Die bouery is onmiddellik gestop. Ons feetjies was nie veilig genoeg in hierdie ontwerp nie. Vir hom het dit gegaan oor sekuriteit! Lmaa 🙂

“Palafitas”, dink ek.

“Wel, dan sal ons moet navorsing doen, want mamma het nog nooit huisies op stokkies gebou nie.”

So gryp ons die skootrekenaar en begin prente versamel van Palafitas. Te prettig hoor – die huisies met beentjies!

Ek dink dis hoekom ek Ondersoek Gebasseerde Leer so geniet. Ons dag ontvou natuurlik en dit maak die leerproses baie interessant. (En mag ek ook net noem dat dit die ma se vaardighede toets, hoor!) 🙂

Ek en Mikhail het elke oomblik geniet. Ons het oor die ontstaan van Palafitas geleer, die redes hoekom mense die boustyl gebruik het, en in watter streke dit voorgekom het, maar die lekkerste gedeelte van ons dag, was om ons eie klein feetjie-palafitas te bou.

Ons is nog nie klaar nie, maar hou gerus hierdie spasie dop! Ons gaan drukvriendelike materiaal ontwerp met feite oor Palafitas wat julle kan uitdruk vir julle eie gebruik, en ons sal binnekort fotos laai en ons nuwe feetjietuin met julle deel.

xoxo

ASPERGER: DIE VROEË TEKENS VAN OUTISME EN ASPERGER

“My kind is die oulikste dingetjie ooit. Kyk hoe loop hy op sy toontjies.” Da Vinci Ma

Outisme

Een van die eerste tekens wat Mikhail gewys het, was om op sy toontjies te loop. Ek het dit te oulik gevind en het geen idee gehad dat dit ‘n teken van outisme is nie. Sy kos mag nooit aan mekaar geraak het nie, en tot dit was vir my oulik. Ek het dit geniet om vir hom allerhande verskillende borde met vakkies te koop, en ons het op een stadium ‘n hele versameling gehad.

Met sy diagnose het die Pediater aan my ‘n vraelys gestel, en terwyl ek antwoord, het daar ‘n gedagte by my opgekom: “Het ek ook Asperger? Is ek die draer van die outisme gene?”

Ek het soveel van die simptome van Asperger, maar is te bang om myself te laat toets. Wat sal dit tog in elk geval bereik, om op my ouderdom ‘n etiket by te kry? Het ek nie al genoeg etikette in hierdie lewe versamel nie?

Al wat ek weet, is dat ek nou nog na ‘n spanningsvolle dag soek na een of ander klere etiket om aan te vryf. Ek organiseer, herorganiseer, en rangskik goed op ‘n daaglikse basis. In ‘n meubelwinkel herrangskik ek sommer die vertoon lokaal.

Ek fikseer op onderwerpe, en sal vir weke lank een onderwerp navors. Ek het ‘n buitengewone groot woordeskat, maar ek gebruik nie die woorde in daaglikse gesprekke nie. Mense hou nie daarvan nie. Ek maak nie oogkontak nie, tensy ek in my hoedanigheid as openbare spreker optree. Dit verg geweldige konsentrasie.

Die kinders sê ek is allergies vir geraas en wanneer daar harde geluide in die huis is, verander my gemoed onmiddellik. Die kode-woord vir hulle om sagter te wees is “geraas besoedeling.’ Ek is volwasse genoeg om op my tande te byt in winkelsentrums, maar by die huis gryp ek gereeld my ore vas om die geraas te stop.

Ek verstaan Mikhail beter as enige iemand anders in ons familie. Ek vereenselwig met sy uitkyk en stryd om in te pas. Tog is ek suksesvol in my beroep as Publieke Verhoudinge Konsultant en het ek die kuns van sosiale vaardighede bemeester.

‘n Diagnose is dalk nie ‘n slegte idee nie. Dit sal bewys dat Aspergers suksesvol kan wees! 🙂

Ek deel die vroee tekens met julle. Elke geval verskil, en nie al die tekens is noodwendig teenwoordig nie. Dit hang ook af van die graad van outisme.

Emosies & Sensitiwiteite:

  • Een insident bepaal jou kind se gemoed vir die res van die dag.
  • Raak oorweldig deur te veel verbale instruksie.
  • Ervaar kalmte deur uitwendige stimulasie, bv. om ‘n voorwerp te roteer.
  • Verlang ‘n troos item soos ‘n kombersie.
  • Sukkel om met skielike en harde geluide te deel.
  • Emosies kan van skielik verander, of ure uitrek.
  • Onvanpaste betasting van homself in publieke situasies.
  • Onverdraagsaamheid vir sekere kos teksture, kleure en die manier wat dit op die bord aangebied word. Kos mag nie aan mekaar raak nie.
  • Lag, huil en gooi vloermoere vir geen voorliggende rede.
  • Benodig alleentyd om van spanning en frustrasies ontslae te raak.
  • Weerstaan verandering in sy omgewing ( Bv. mense, plekke, voorwerpe)
  • Sensories sensitief.
  • Wanneer hy gedisiplineer word is dit asof hy wegraak in sy eie wêreld.
  • Hoё of lae pyn toleransie.

Gesondheid & Beweging:

  • Voorkoms van gehoor probleme, maar gehoor was getoets en is normaal.
  • Onreёlmatige slaappatrone.
  • Allergieё en kos sensitiwiteit.
  • Oёnskynlike gebrek aan kommer oor persoonlike higiёne.
  • Onnatuurlike en vreemde postuur.
  • Loop op tone.
  • Loop sonder natuurlike armbewegings.
  • Lomp van beweging; loop gedurig in goed of mense vas.
  • Vind dit moeilik om van een vloeroppervlak na ‘n ander te beweeg. ( Bv. van mat na teёls.)

Sosiale Vaardighede:

  • Het ‘n weersin om vrae oor hulleself te beantwoord.
  • Onderhou moeilik vriendskappe.
  • Sukkel om gesigsuitdrukkings en liggaamstaal te interpreter.
  • Vind dit moeilik om groepsaktiwiteite te verstaan.
  • Vind dit moeilik om grappe, figuurlike spraak en sarkasme te verstaan.
  • Vind dit moeilik om die reёls van gesprekke te verstaan.
  • Deel nie oor die algemeen hulle observasies en ondervindinge met ander nie.
  • Vind dit makliker om met ouer of jonger persone te sosialiseer, eerder as hulle eweknieё.
  • Lewer spontane kommentaar wat geen konneksie het met die onderwerp van bespreking nie.
  • Deel eerlike, maar onvanpaste observasies.
  • Minimum erkenning van ander.
  • Vertrou te maklik, of onvermoё om mense se motiewe te lees.
  • Verkies om alleen te wees.
  • Kom oorvriendelik voor.
  • Hou nie daarvan om aangeraak te word nie.
  • Reageer op sosiale interaksie, maar inisieer dit nie.
  • Geen of min begrip vir ander persone se gevoelens.
  • Praat onophoudelik oor een of twee onderwerpe.
  • Onbewus van persoonlike spasie en beweeg tot teenaan ander gedurende gesprekke.
  • Onbewus of onpartydig in dit wat om hulle aangaan.
  • Min of geen oogkontak.

Gedrag:

  • Vind dit moeilik om aandag te gee aan sekere take.
  • Kan nie tyd aanvoel nie. (Bv. die verskil tussen ‘n dag en ‘n maand nie.)
  • Vind dit moeilik om hulle beurt aft e wag.
  • Uiterse vrees vir geen ooglopende rede.
  • Gefassineerd met rotasie.
  • Het ‘n drang om goed te organiseer of te herrangskik.
  • Fyn motoriese ontwikkeling is agter die van eweknieё.
  • Frustrasie word op ongewone maniere gewys.
  • Sukkel om risiko te bepaal of om gevaar te sien.
  • Het ‘n wye versameling van goed.
  • Is obsesief oor voorwerpe, idees en begeertes.
  • Perfeksionisties in sekere areas.
  • Herhalende spel.
  • Kwoteer flieks en video speletjies.
  • Kompulsiewe en rituele gedragspatrone. (Bv. snuif, lek, wapper hande)
  • Vind dit moeilik om van een speletjie na ‘n ander aan te beweeg.
  • Onverwagte bewegings.
  • Ongewoon geheg aan voorwerpe.
  • Verbale uitbarstings.

Taalkundige Ontwikkeling:

  • Abnormale intonasie, ritme of toonhoogte in spraak.
  • Ervaar probleme om rigtingsterme te verstaan. (voor, agter)
  • Sukkel om te fluister.
  • Maak verbale geluide terwyl hy luister.
  • Het ‘n baie groot woordeskat.
  • Gebruik dikwels kort, onvolledige sinne.
  • Voornaamwoorde word dikwels onvanpas gebruik.
  • Herhaling van frases.
  • Spraak is abnormaal hard of sag.
  • Spraak het baie vroeg begin en vir ‘n tydperk gestop.
  • Gebruik ‘n persoon se naam oordadig in ‘n gesprek.

‘N AANLYN DEBAT WAT DIE VONKE LAAT SPAT

“Ons laat gaan nie ons kinders nie; ons gaan saam met ons kinders.”

Da Vinci Ma

Bessie1

‘n Debat het vandag lelik skeef geloop op die blad vir “Tuisonderrig in Afrikaans”. ‘n Ma het kommentaar gelewer en ‘n stelling gemaak dat dit die “unschoolers” se houding van laat gaan is, wat Tuisonderrig in Suid Afrika ‘n slegte naam gee. Sy het gesê dat daar ‘n plek is vir disipline en waardes en dat kinders nie net in die bed gelos moet word wanneer hulle siek speel nie. Sy het gevoel dat ons daardeur grootmense kweek wat dan dieselfde patrone herhaal in die werksomgewing. Uit haar skrywe kon ek agterkom dat sy onder die wan-indruk is van wat die term “unschooling” beteken.

Ek het kommentaar gelewer. Ek het verduidelik dat kinders wat die tradisionele manier van skool laat vaar, hulle belangstellings aan ouers bekend maak. Die ouer assisteer die kind dan om die inligting te bekom. Ek het gesê dat hiedie kinders nie ‘n reputasie het van siek speel nie, juis omdat hulle die koers van die leerproses bepaal en aktief betrokke is in die hele proses. Ek het ook gesê dat dit meestal kinders is wat gefrustreerd voel in die onderrig metode wat siek speel. Ek het ‘n voorbeeld gebruik om uit te beeld hoe so proses sou verloop:

“Mamma ek wil meer weet oor bloubessies. Dis my gunsteling bessie en ek weet so min daaroor.” Ek luister na my kind, en raak saam met hom opgewonde. Ek vra vrae en gee my opinie en ‘n dialoog ontstaan. Wanneer hy iets deel wat nie feitlik is nie, vra ek: “Dink jy so? Ons moet dit bietjie navors en kyk of jy reg is.” Die navorsingsprojek begin. Ons skryf alles neer wat ons teen die einde van die ondersoek wil weet.Ons besoek ‘n kwekery of plaas waar ons meer kan leer oor bloubessies. Die boer is gaaf en wys ons alles; van die saad af tot by die eindproduk. Ons drink die sap wat hulle maak en koop vir ons ‘n plantjie om in ons tuin te gaan plant. Oppad huis toe stop ons by die mark om bloubessies en sap te koop. Voordat ons ons nuwe plantjie plant, skryf ons eers neer wat die boer ons geleer het: Die plantjies hou van son en goedgedreineerde grond. Ons plant ons plantjie, drink ons sap, en deel ons bessies gelykop tussen ons twee. Ons tel dit weer om seker te maak dat dit regverdig opgedeel is. Ons sien ons het twee groepies van tien elk. Twee maal tien is twintig. Saam het ons twintig bessies. Ons bêre elkeen twee vir boetie. Nou het ek en mamma elkeen agt. Ons elkeen eet een en beskryf die smaak. Dan besluit ons om ‘n tert te bak met die bessies. Ons ruik die geur wat by die oonddeur uitkom en let op hoe die warm bessies se geur verskil van die vars bessies. Ons teken ‘n prent van ons dag op die boer se plaas, en dae later sal ons nogsteeds terugdink en gesels oor ons heerlike ondervinding.

Later, wanneer my seuntjie rus na die opwinding van die dag, dokumenteer ek ons dag, en al die vakgebiede wat ons gedek het. Ek plak fotos daarby en plak dit op ons Atelier se muur.

Ek kon natuurlik nie so breedvoerig verduidelik nie, en my boodskap is totaal en al verkeerd opgeneem. Ek wou die benadering verduidelik en op geen stadium het ek haar benadering afgekraak nie. Dit was heelwat later, nadat sy my goed laat verstaan het dat ek haar nie sal oortuig nie, dat dit teen haar Christelike beginsels indruis, en dat sy al dertig jaar ‘n onderwyseres is, boonop byvoeg dat “unschooling” nog nie beproef is nie, en geensins bewyse gelewer het van sukses nie, dat ek my objektiewe self met opset verplaas. 🙂

Die vonke het gespat! Vandag het ek vir myself ‘n reputasie van skoorsoeker gebou. Lmaa. 🙂 Ek kon myself nie stop nie. Ek kan debateer met mense wat hulle feite reg het, en ook met mense wat ander se sieninge respekteer, maar iemand wat persoonlik raak, verdien waaragtig hulle eie medisyne.

Ek het darem iets geleer ook vandag: (Haai, en dit sonder ‘n kurrikulum)    Van hier af vorentoe verwys ek na ons benadering as “Ondersoek Gebasseerde Leer.” Dit beskryf soveel beter wat ons doen en bring ons nie oor as luiaards wat heeldag in die bed lê nie, maar dit sal ek van oormôre af toepas, want more bly ek en Khailie in die bed, net om sout in die Kurrikulum-lopers se wonde te vryf! Lol. 🙂

xoxo

 

 

WATTER LEER METODE WERK VIR ASPERGER KINDERS?

vERBEELDING1

“My kop is soos ‘n rekenaar se hardeskyf, mamma. Ek kan oppak.” Da Vinci Kind

Mikhail was op vier jarige ouderdom gediagnoseer met Asperger. Die professor het ‘n boek in my hand gedruk en gesê ek moet soveel as moontlik oplees oor die onderwerp.

Miskien het ek sy raad te ernstig opgeneem, want ek het omtrent nagevors. Ek twyfel of enige iemand my enige iets kan vertel waaroor ek nie reeds gehoor het nie. Ek was vasbeslote om ‘n “oplossing” te kry vir my kind se “probleem.”

Na vele navorsing het ek besluit dat Montessori die antwoord was, en ek het vir ‘n kursus ingeskryf. Ek het my goed betaalde pos as Publieke Verhoudinge Bestuurder verrruil vir ‘n onderbetaalde onderwys pos by ‘n kleuterskool. Dit is hoe ernstig ek was om hierdie probleem uit die weg uit te ruim.

Ek het behoorlik fikseer op onderwys metodes! Ek lag nou so lekker daaroor. Aspergers fikseer ook op onderwerpe – dis die rede hoekom Mikhail elke liewe dinossourus se naam, hoogte, lengte en eetgewoontes ken. Hy weet tot in watter lande elkeen voorgekom het. Ek kan met trots sê dat ek teen hierdie tyd ‘n kenner is op die gebied van onderwys, en my wilde-kind kan tereg sê dat hy bedank het as proefkonyn.

Elke metode was op hom uitgetoets; van “die greep”, die aaklige greep vir outistiese kinders wanneer hulle vloermoere gooi, tot by die rigiede beginsels van Montessori. Die enigste goeie ding wat hieruit gespruit het, is natuurlik dat my kind my goed op my plek gesit het, en dat ons uiteindelik die oplossing tot die probleem gevind het!

Dis vyf jaar later, en wanneer Mikhail ‘n vloermoer gooi (ja, hy doen dit nogsteeds) sak ek rustig af tot langs hom op die vloer, erken sy emosies, troos hom en vra hoe ek kan help om sy probleem op te los. Dit werk elke keer, en vloermoere neem nie langer as tien sekondes om op te hou nie.

Mikhail wil gehoor word. Sy spraak is agter, en hy raak gefrustreerd as mense hom nie verstaan nie. Hy het ‘n groot woordeskat, groter as ander nege jariges, maar sy uitspraak kan soms veroorsaak dat mense hom as jonger kategoriseer.

Hy dra baie frustrasies in hom rond, en is oorbewus van die dieper dinge in die lewe, so hy lei ook aan depressie. Hy huil homself aan die slaap oor die man langs die pad wat nie ‘n huisie het nie, en soos hy verduidelik: “ Ek wil nie op hierdie aarde leef nie. Ek wil stof word en teruggaan na Jesus toe. Ek hou nie van mense nie.” Om te sê mens praat nie so nie, gaan nie help nie. Ek moet sy gevoelens erken en respekteer en ‘n rede wees hoekom hy op aarde wil wees.

Aspie-kinders het nie ‘n probleem nie. Hulle is presies wie hulle gekom het om te wees. Hulle is die Einstein’s en die Da Vinci’s. Dis nie asof een van daardie briljante wesens bekend was vir hulle sosiale vaardighede nie. Die enigste benadering wat jy kan volg tot jou kind se opvoeding en onderwys, is die benadering van opregte luistervaardighede. Kinders wil gehoor word.

Voeg daarby ‘n bietjie van Reggio se betekenisvolle spel, ‘n bietjie van Montessori se probleemoplossing en praktiese lewensvaardighede, ‘n bietjie van Waldorf se dans en musiek, en ‘n bietjie Bos-avonture van Duitsland, en jy het ‘n wenresep.

Gaan besoek weer Montessori se wiskunde benadering wanneer jou kind ouer is, en bou feetjietuine tot in sy tiener jare, en of julle met plastiek speelgoed of hout speelgoed speel, maak seker jy is op daardie mat besig om saam te speel en na al jou Aspie se wyshede te luister. Hulle is per slot van sake hier om ons iets te kom leer.

xoxo