MINDER DRUK

GESKRYF DEUR LIZELLE RADEMEYER

LomiArtikel

Iemand vra my die ander dag of ek dink tuisonderwys maak kinders slimmer? Dis nie die eerste vreemde vraag wat ek al gekry het nie. En gewoonlik sit dit my aan die dink.

Ek sou nie omgee as tuisonderwys my kinders slimmer maak nie. In al die jare van op lees oor die voor- en nadele van tuisonderwys het ek egter nog op niks af gekom wat daarop dui nie. Ja, daar is tonne navorsing in Amerika en elders wat wys dat die kinders beter doen in gestandaardiseerde toetse as hul skool eweknie. Selfs dat hul beter doen met buite die boks probleem oplossing. Maar beteken dit hulle is slimmer? Nie noodwendig nie.

Wat ek wel dink is dat daar minder druk en stres is. Alhoewel kort termyn stres, af en toe, ons beter kan laat presteer, is lang termyn stres baie nadelig vir enige mens. Nie net vir geheue en probleem oplossing nie, maar vir ons algemene gesondheid. Mens funksioneer bloot net beter as die druk nie konstant hoog is nie.

Hoekom sal dit enigsins anders vir kinders wees? Ek wonder net of mense dikwels besef onder watter druk jong kinders van selfs 6 of 7 deesdae amper konstant is. Miskien is dit makliker om dit raak te sien, terwyl ons self in die kalm poel, die gejaag gadeslaan. Is mens immers nie dikwels so vasgevang in jou eie situasie of gejaag, dat jy die voor die hand liggende heel mis kyk nie?

As ek terug dink aan my eie eerste paar jaar op skool was dit ‘n heerlike avontuur. Ek onthou die baie speel en maats. Ek onthou al die oulike dinge wat ons geskep het. Die samehorigheid gevoel van sport dae waar almal punte vir hul span gekry het en niemand eers geweet het wat ‘n medalje is nie! Van skool konserte waar ALMAL ‘n rol gespeel het.

Die eerste toets wat ek onthou was in standerd 2 (graad 4). Ek onthou ook die wrewel wat ek oor die ding gevoel het. Dis eers in hoërskool wat ek die konstante druk aan my lyf begin voel het. Dis ironies dat hoërskool meer stresvol was as enige iets daarna. Selfs universiteit en al die uitdagings van volwasse lewe wat daarop gevolg het.

Tye het drasties verander. Nou stap kinders in die skool in en binne die eerste week of 2 begin die toetse. Eksamens begin ook sommer al in graad 1 (ja, dit word nie dit genoem nie. Dis “net” ‘n toets reeks. Maar maak dit saak wat jy dit noem?! Die stres oor wat jy moet leer, wat jou punte is en of jy “goed genoeg” is, bly presies dieselfde). Die druk op die outjie wat spook om deur te kom is net soveel soos die op die een wat konstant probeer goed doen.

Dis ‘n gejaag van een aktiwiteit na die volgende. En oral is daar druk en ‘n gemeet teen ander. Dis seldsame aktiwiteite waar kinders net iets kan doen vir die lekker en hulle nie ‘n eksamen of kompetisie iewers moet doen nie.

Ek luister hoe 7-jariges spesiale vergunning moet kry om later aan distriksproewe vir gimnastiek deel te neem, omdat hul ‘n netbal wedstryd het wat bots met dit. Want sien, mis hul die een wedstryd, verloor hulle hul plek in die span. Besef mense die kinders is NET 7?! Hulle is nie besig om ‘n loopbaan van sport te maak nie. Hulle is net besig om te speel en te ontwikkel.

Daar kan baie gesê word van die individuele aandag wat kinders tuis kry. Maar ek vermoed dis die heelwat stadiger pas en aansienlik minder druk wat net so ‘n groot bydrae lewer tot die kinders se besondere ontwikkeling en latere prestasies. Hulle kan leer en ontwikkel teen hul eie pas. Hul grootste kompetisie is hulself.

Dit hou egter ook ‘n waarskuwing in vir ons wat tuisonderwys doen. Ons moet waak daarteen om nie die druk en stres te laat terug sluip in ons huise in nie. Dit kan vir ons en ons kinders rustige lae stres jare wees. Of ons kan onsself en hulle jaag en druk, om nie af te steek teen ander nie, en net die probleme van die skoolstelsel dupliseer.

Lizelle Rademeyer
Lomi – Learning, Playing, Crafting
http://lomi.co.za/
www.facebook.com/lomicreations